Man vas vir verdrinking van 27 migrante

‘n Twee-en-dertigjarige man sal na verwagting vandag in die Westminster-landdroshof verskyn om moontlik aan Frankryk uitgelewer te word waar hy tereg sal staan op aanklagte van strafbare manslag. Dit volg nadat hy in Gloucestershire in hegtenis geneem is in verband met die dood van minstens 27 mense wat verlede jaar verdrink het in ‘n poging om die Engelse Kanaal oor te steek. Harem Ahmed Abubaker word beskuldig dat hy deel is van ‘n groep wat saamgesweer het om die migrante in November verlede jaar na die Verenigde Koninkryk te vervoer. Die skuit het gesink nadat dit die Franse kus verlaat het. Slegs twee mense aan boord het oorleef en vier word steeds vermis.