Man vas vir N$411 000 se onwettige sigarette

‘n Namibiese man, Ndjolomba Antonio Hamuyela, het in die landdroshof op Tsumeb verskyn nadat hy met onwettige sigarette in ‘n vragmotor by die Oshivelo-padblokkade in die Oshikoto-streek gearresteer is. Die 32-jarige beskuldigde is op borgtog van 20 000 Namibiese dollar vrygelaat. Na bewering was daar 135 bokse onwettige Yes-sigarette in die vragmotor wat Hamunyela bestuur het. Hy het glo die sigarette in die vragmotor gelaai wat aan die NSM-maatskappy vir Onamulunga-diensstasie by Ondangwa behoort en na Windhoek onderweg was. Die Yes-sigarette ter waarde van 411 000 Namibiese dollar is gekonfiskeer. Die saak is tot 7 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.