Man grou glo kleuter uit graf

‘n Gru-storie het hom die naweek afgespeel by Gomkhaos-lokasie by Tsintsabis in die Oshikoto-streek. Daar word beweer dat ‘n 40-jarige man die oorledene se graf wederregtelik en opsetlik uitgegrawe en van die oorledene se oorskot verwyder en na sy huis geneem het. Die graf was die van ‘n twee-jarige kleuterseuntjie wat in April vanjaar begrawe is. Die seuntjie se familie het Saterdag op die geskende graffie afgekom en voetspore van die graf af gevolg tot by die verdagte se huis, sowat 200 meter daarvandaan. Die polisie is Maandag in kennis gestel, waarop hulle van die kleuter se bene en sy skedel in die verdagte se huis gevind het. Die man is gearresteer en sal môre in die Tsumeb landdroshof verskyn op aanklagte van grafskending en lykskending, alternatiewelik oortreding van begraafplek ordinansie 27 van 1966.