Man, 5-jarige seun sterf in minibus-ongeluk

‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie in Otavi ondersoek na ‘n 5-jarige seun en ‘n 34-jarige man in ‘n minibus-ongeluk 67km noord van Otjiwarongo op die B1 gesterf het. Die seun is op die toneel dood, maar die man het in ‘n ambulans op pad na Windhoek gesterf. Volgens die polisieverslag het die 24-jarige bestuurder beheer oor die minibus en sleepwa verloor toe die regter-agterband gebars het. Die voertuie het verskeie kere gerol, en die bestuurder en 15 ander passasiers is lig tot krities beseer. Sommige beseerdes word in die Otjiwarongo Staatshospitaal behandel. Die voertuig was van die noorde na Walvisbaai op pad.