Maleisië wil by BRICS aansluit

Maleisië het sy voorneme bekendgemaak om deel te word van die BRICS-groep ontluikende ekonomieë. Eerste minister, Anwar Ibrahim, het aan Chinese media gesê die land sal by die groep aansluit wat onlangs vergroot is met die insluiting van Saoedi-Arabië, Iran, Ethiopië, Egipte, Argentinië en die Verenigde Arabiese Emirate. Volgens Anwar is Maleisië besig om die formele prosesse te voltooi. Die aankondiging val saam met die besoek aan Maleisië van die Chinese premier, Li Qiang, ter viering van 50 jaar se diplomatieke betrekkinge.