Maine-polisie op spoor van massaskieter

Amerikaanse owerhede is warm op die spoor van ‘n man wat reeds 22 mense in Lewiston in Maine in die verre noordooste van die VSA doodgeskiet het. Die Lewiston-polisiedepartement het Robert Card geïdentifiseer as ‘n persoon van belang in die skietvoorvalle. Die 40-jarige Card het op verskeie persele toegeslaan en ontwyk steeds owerhede. Minstens 22 mense is dood en dosyne is beseer ná twee massa-skietvoorvalle. ’n Intensiewe soektog is aan die gang. Die publiek is gemaan om binne te bly en kroeë en restaurante gevra om te sluit.