Macron vra groter verspreiding van entstof in Afrika

Die Franse president Emmanuel Macron het ‘n beroep op wêreldleiers gedoen om die vervaardigingsvermoë van Covid-19-entstowwe te vergroot om billike verspreiding veral in Afrika te bevorder. Macron en Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa het vandag by die Uniegebou in Pretoria vergader. Macron sê die entstof moet so vinnig as moontlik aan die wêreld se digbevolkte gebiede gelewer word. ‘n Tolk het sy boodskap oorgedra dat hoe langer dit neem vir mense om ingeënt te word, hoe vinniger muteer die virus.