Maatskaplike Sekerheidskommissie hersien verouderde beheerwet
Die Maatskaplike Sekerheidskommissie het ‘n hersiening van sy beheerwet, die Wet op Maatskaplike Sekerheid van 1994, afgeskop om by die jongste ontwikkelings aan te pas en operasionele doeltreffendheid te verbeter. Die kommissie se uitvoerende hoof, Milka Mungunda, verduidelik dat die huidige wet, wat verouderd is, bepalings bevat wat vordering op sekere gebiede belemmer. Sy noem as voorbeeld dat hoewel die Bank van Namibië die gebruik van tjeks uitgefaseer het, vereis die kommissie dit steeds weens die verouderde wetgewing. Een van die beduidende uitdagings is die tegnologiese aspek van die kommissie se bedrywighede. Mungunda sê vordering is gemaak maar daar is nog ruimte vir verbetering, veral om weg te beweeg van tradisionele metodes.