Maatreëls teen voëlgriep in Wes-Kaap versterk

Die Wes-Kaapse regering gaan gesprekvoering met die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging voortsit om te verseker dat maatreëls vir bio-sekuriteit verskerp word nadat voëlgriep onlangs in die provinsie opgespoor is. Die provinsiale veeartseny-dienste het bevestig dat voëlgriep verlede maand op twee kommersiële hoenderplase in die Wes-Kaap ontdek is. Die presiese stam van die siekte is nog nie geïdentifiseer nie. Geen entstof of behandeling bestaan vir voëlgriep nie. Die enigste wyse om tans die siekte te bekamp is om pluimvee, wat die siekte het, so gou as moontlik van kant te maak.