Maart se inflasie-syfers môre bekend

Daar word verwag dat die Namibiese Statistieke-agentskap môre inflasie-syfers, of te wel, die verbruikers-prysindeks, bekend sal maak vir Maart. Inflasie vir Februarie vanjaar het op 7,2 persent ingekom vergeleke met 4,5 persent in Februarie 2022 en 7 persent in Januarie vanjaar. Cirrus in die hoofstad se ontleding toon dat die dryfveer agter die hoë syfers is inflasie op goedere terwyl dienste baie laer is. Voedsel en vervoer stoot die prys van goedere op. Die verbruikers-prysindeks het in 2020 ‘n laagtepunt bereik en onder 2 persent ingekom maar het sedertdien gestyg tot net bo 7 persent. Die slegte nuus eindig nie daar nie. Die goewerneur van die Bank van Namibië Johannes !Gawaxab het vroeër aangedui dat ‘n 25 basispunt rentekoersverhoging op 19 April sal moet plaasvind as inflasie nie nader aan 6 persent beweeg nie. Die sentrale bank is ook reeds 75 basispunte onder die Suid-Afrikaanse Reserwebank.