Maande later spoel haar beursie weer uit

Verbeel jou jy verloor jou beursie in die see, en maande later spoel dit weer uit!

Maroela Media berig dis presies wat met Marcie Callawaert van ‘n afgeleë eiland naby Tofino, Brits-Kolombië aan die weskus van Kanada, gebeur het.

Sy het met haar honde op die strand gaan stap en iets bekend in die opdrifsels opgemerk. Dit was haar eie beursie wat sy in Junie 2023 verloor het!

Dit was maande ná sy dit per ongeluk in die see laat val het toe sy op in boot geklim het.

Foto: India Today

“Ek het nie die sakkie op my rugsak toegerits waar die beursie gebêre is nie. Ek het net ‘n plons gehoor toe ek op my boot geklim het,” het sy intussen aan CHEK News gesê.

Callawaert, wat gereeld haar avonture op die eiland op haar TikTok-profiel met meer as 47 000 volgelinge deel, het vroeër aanvaar die beursie is vir altyd verlore toe in soektog deur in duiker niks opgelewer het nie.

Die oseaan het egter vir haar in verrassing beplan.

Alhoewel die ritssluiter in die soutwater verroes het, het die res van die inhoud – kaarte en kontant – behoue gebly.


“Ek het dadelik geweet [toe sy die beursie sien]. Ek het in my spoor stilgehou,” het sy bygevoeg.

Die $20 kontant, haar kaarte en identiteitskaart was ongeskonde ná agt maande in die see.

Meer as 7 miljoen mense het haar video oor die voorval op Tik Tok gekyk.