Lughawe-passasiersverkeer het aansienlik gestyg in Maart, met 90 917 passasiers wat by die land se lughawens aangekom of vertrek het. Dit is ‘n styging van 24,9 persent op ‘n jaarlikse basis en in skrille kontras met die styging van 1,2 persent in Februarie. Die Namibië Statistiek-agentskap sê in sy jongste verslag Hosea Kutako Internasionale Lughawe het die grootste aandeel van 75,7 persent gehad, gevolg deur Walvisbaai met 8,5 persent en Eros-lughawe met 8 persent. Altesaam 36 173 passasiers het Hosea Kutako in Maart gebruik, vergeleke met 27 997 passasiers in die voorafgaande maand en 30 116 passasiers in Maart verlede jaar. By die Walvisbaai-lughawe het die Aankomste-indeks met 25,2 persent gestyg maand-tot-maand, met jaar-tot-jaar-groei van 15,8 persent.