Loteryraad hou voet by stuk dat Smit-lootjie onwettig is

Die Loteryraad het in ‘n persverklaring weer beklemtoon dat die sogenaamde Multi-million Online Real Estate Lottery, die Namibia Property Raffle-projek van Basil Smit nie deur hom goedgekeur is nie en is dus ‘n onwettige lootjie.  Die program behels Amani Lodge en Burgs View Boutique Hotel wat blykbaar 29 miljoen Namibiese dollar werd is en op lootjie gewen kan word. Die voorsitter van die raad, Michael Mutonga, sê die raad het die lootjie reeds op 18 Augustus verlede jaar afgekeur. Hy voeg by hulle neem stappe soos deur die nodige wetgewing bepaal en dat die publiek daaroor ingelig sal word. Kosmos 94.1 Nuus het kontak met Smit in Suid-Afrika gemaak. Hy sê dit is die eerste keer wat hy die verklaring sien en is in besit van kommunikasie deur Mutonga wat teenstrydig is met die inhoud van vandag se verklaring.