Loteryraad het Smit se eiendomslootjie-program in 2022 afgekeur
Die voorsitter van die Loteryraad Michael Mutonga het op navraag aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die aansoek van die multi-miljoen eiendomslootjie en geaffilieerde bemarkingsprogram van Basil Smit deur die raad afgekeur is. Die raad het tydens ‘n vergadering op 18 Augustus 2022 oor Smit se aansoek beraadslaag en na behoorlike oorweging besluit om nie die aansoek goed te keur nie, aangesien dit nie aan die vereistes van die bepalings van die wet voldoen nie. Volgens Mutonga is Smit in kennis gestel van die besluit in ‘n brief gedateer 1 September verlede jaar. Die program behels Amani Lodge en BurgsView Boutique Hotel. Die eerste bonanza-trekking het vandeesweek plaasgevind met twee wenners wat aangekondig is. Mutonga sal Maandag die media oor die kwessie inlig.