Los ambassadeurs, fokus op Angolese in ons verkiesings: Venaani

Nog reaksie word ontvang op die herrie wat losgebars het oor ‘n middagete by die Duitse ambassadeur se huis, waarna die IPC-leier Panduleni Itula en die party se vise-president, Trevino Forbes, uitgenooi was. Nie net het die minister van internasionale betrekkinge, Peya Mushelenga, die spesiale gesante van die EU en Duitsland hieroor ontbied nie, maar vise-president Netumbo Nandi-Ndaitwah het dit ook gekritiseer as “hoogs twyfelagtige” gedrag. Die leier van die amptelike opposisie PDM, McHenry Venaani, het hom by die koor aangesluit en stem nie met Nandi-Ndaitwah saam nie. Volgens Venaani is dit kinderlik en sinneloos om te redeneer dat diplomate nie opposisieleiers moet betrek nie. Dit is ‘n wêreldwye verskynsel wat hy deur sy loopbaan raakgeloop het.

Venaani sê die visepresident moet eerder bekommerd wees oor Angolese burgers wat in Namibië se verkiesings stem.