Loreen van Swede wen Eurovision vir die tweede keer
Die Sweedse sanger Loreen het die gewilde Eurovision 2023 in Liverpool, Engeland gewen met die liedjie Tattoo. Dit het haar die eerste vrou gemaak wat die kompetisie twee keer kon wen. Die Finse kletsrymer, Käärijä, wat die Viewers’ Choice-toekenning gekry het, was tweede. Loreen is die enigste deelnemer, na Johnny Logan van Ierland, wat die kompetisie twee keer kon wen. Haar prestasie maak Swede en Ierland die suksesvolste Eurovision-lande, 49 jaar na Abba se opspraakwekkende oorwinning. Liverpool het vanjaar se musiekfees aangebied namens verlede jaar se wenner, Oekraïne, wat dit nie kon doen nie, weens Rusland se inval.