Lichtenstrasser ondergaan verdere toetse

Plaaslike berigte lui dat die moordenaar Ernst Lichtenstrasser vir verdere toeste na die Windhoek Sentraal-hospitaal geneem is. Medici is tjoepstil oor sy toestand maar, dit wil voorkom dat hy buite gevaar is na ‘n vermoedelike selfmoordpoging verlede week. In ‘n brief wat Maandag aan die hof gerig is, het dr. KJ Katjomuise gesê hy was op ‘n ventilator nadat hy na bewering probeer het om selfmoord pleeg deur ‘n oordosis Tramadol en Zolpidem by die Windhoek-korrektiewe fasiliteit te neem. Lichtenstrasser het tydens sy getuienis in die verhoor aan die hof gesê hy neem Tramadol vir ‘n besering wat hy tydens die bevrydingsoorlog aan sy skouer opgedoen het. Hy het ook gesê hy neem ander tablette om hom te help slaap. Dit is tans nie duidelik hoe hy daarin geslaag het om die medikasie in die hande te kry nie, maar daar word wyd bespiegel dat hy die tablette opgegaar het deur dit nie op die gespesifiseerde tye te drink nie. Lichtenstrasser het Ekhard Mueller en Heimo Hellwig, twee direkteure van die Namibiese Instituut vir Mynwese en Tegnologie in April 2019 doodgeskiet.