Lichtenstrasser-bekentenis bevraagteken

Die Nimt-moorde is weer in die nuus met die hervatting van die verdagte, Ernst Lichtenstrasser se moordverhoor. Plaaslike berigte lui dat ‘n kliniese sielkundige, Ute Sinkala aan die hof sê dat Lichtenstrasser se bekentenis aan die polisie dat hy die moorde gepleeg het, onbetroubaar is. Eckhart Mueller, Nimt se direkteur, en sy adjunk, Heimo Hellwig is vroegoggend op 15 April 2019 by die instituut se kantoor op Arandis, doodgeskiet. Sinkala sê Lichtenstrasser was uiters moeg met min slaap, het chroniese pyn gehad in sy skouer sowel as gevolg van ‘n prostaatprobleem en was onder erge stres. Dus, was sy geestestoestand gekompromitteer en sy bekentenis kan in twyfel getrek word. Die 61-jarige word deur regter Christie Liebenberg verhoor.