Libiërs soek na familie, 10 000 vermis

Inwoners van die verwoeste Libiese stad Derna is steeds desperaat op soek na vermiste familielede en reddingswerkers het ‘n beroep gedoen vir nog lyksakke, ná ‘n rampspoedige vloed wat duisende mense gedood en na die see meegesleur het. Ten minste ‘n kwart van die Mediterreense stad is uitgewis deur ‘n stortvloed water wat na ‘n kragtige storm Sondagaand ‘n gewoonlik droë rivierbedding afgespoel het en damme bo die stad laat bars het. Meerverdiepinggeboue het ineengestort met slapende gesinne binne. Daar word bereken dat ten minste 10 000 mense vermis word.