LGBT baklei terug teen Jerry se wet

Equal Rights Namibia het reeds sowat 6 000 handtekeninge op hul petisie wat president Nangolo Mbumba versoek om nie Jerry Ekandjo se sogenaamde anti-LGBTQ-wetsontwerp te onderteken nie. Die petisie, wat in Mei op sosiale media bekendgestel is, beklemtoon kommer oor veiligheid en inklusiwiteit vir die LGBT-gemeenskap, veral ná die aanvaarding van die wetsontwerp deur die parlement in Julie verlede jaar. Die beweging beplan om die petisie aan die president te oorhandig sodra 10 000 handtekeninge bereik is, en bepleit die beskerming van menseregte en nakoming van die Grondwet. Daarbenewens doen Equal Rights Namibia ‘n beroep op konstruktiewe dialoog tussen regeringsamptenare, kerkleiers, tradisionele leiers en ander belanghebbendes om diskriminerende wanopvattings uit die weg te ruim en begrip te bevorder. Kosmos 94.1 Nuus het met Omar van Reenen, stigter van Equal Rights Namibia, gesels wat sê dat hulle as ‘n LGBT-gemeenskap sal oorwin, maak nie saak wat nie.