Lang waglys vir leerders met spesiale behoeftes  

Skoolplasings vir Namibiese leerders was ‘n uitdaging vir die onderwysminsiterie, des te meer vir leerders met gestremdhede en spesiale onderrigbehoeftes. Daar is ‘n reuse-waglys vir hierdie leerders. Volgens Regina Hausiku, senior onderwysbeampte in die departement vir inklusiewe onderwys, sit byna 500 leerders met spesiale behoeftes by die huis sonder enige hoop vir die toekoms. Die Dagbreek-skool het tans 184 leerders op ‘n waglys, Môreson Skool 187, en Eluwa Skool 110 leerders. Hausiku sê alhoewel die Onderwys-ontwikkelingsfonds jaarliks 3 miljoen Namibiese dollar voorsien om onderrig-hulpmiddels aan te koop, is dit nie naastenby genoeg nie weens die groot aanvraag. Kosmos 94.1 Nuus het met die adjunk- uitvoerende direkteur in die onderwysministerie, Edda Bohn, oor die kwessie gepraat.