Kyrgios verskyn nie vanjaar by Wimbledon nie

Nick Kyrgios wat verlede jaar die eindstryd gehaal het, het aan Wimbledon onttrek nadat hy ‘n ligament in sy polsgewrig geskeur het. Die Australiër sou vandag in die eerste ronde teen die Belg, David Goffin, te staan kom. Kyrgios het vanjaar nog net aan een toernooi deelgeneem nadat hy ‘n knie-operasie ondergaan het. Die 28-jarige speler sê hy het die week van die Majorkaanse Ope pyn in sy gewrig gehad, en ‘n skandering het ‘n geskeurde ligament getoon. Hy sê hy het alles probeer om te speel, maar het nie genoeg tyd gehad om die besering voor Wimbledon te beheer nie.