Kyrgios en Williams verloor albei eerste wedstryde

Nick Kyrgios en Venus Williams het albei met hulle terugkeer na die professionele tennistoer in die stof gebyt. Die Australiër het in die eerste ronde van die Stuttgart Ope in Duitsland met 7-5 en 6-3 teen Wu Yibing van China verloor. Dit was Kyrgios se eerste enkelspelwedstryd sedert Oktober verlede jaar nadat hy intussen ‘n knie-operasie ondergaan het. Intussen het Williams in die Libema Ope in Nederland met 3-6, 7-6 en 6-2 teen Celine Naef van Switserland verloor. Die Amerikaner het die eerste keer weer mededingend deelgeneem sedert sy in Januarie die laaste 16 by die Auckland Ope gehaal het.