Kunene-polisie, Angola werk saam op grens

Nie-amptelike grensoorgange tussen Namibië en Angola het ontaard in problematiese misdaadbrandpunte. Dit is volgens NamPol in die Kunene-streek se hoof van misdaadvoorkoming, Adjunkkommissaris Obandja Ruhoze. Hy sê oor die afgelope ses maande was daar meer as 47 voorvalle van dwelmhandel in die streek, met die meerderheid daarvan by grensoorgange. Daar was ook 121 veediefstalle, waarvan die helfte by die grens plaasgevind het. Die polisie in die streek sal in samewerking met die Angolese regering sekuriteit by verskeie grensoorgange opskerp, insluitend die informele oorgange.