Kulula en British Airways se vlugte opgeskort

Comair het alle vlugte van Kulula en British Airways van vandag af opgeskort totdat bykomende befondsing verkry kan word. Die maatskappy wat onder sakeredding is, sê hy is besig om die nodige kapitaal in die hande te kry en daar is geen rede om te dink dit sal nie gebeur nie. British Airways en kulula.com se kaartjieverkope is ook onmiddellik opgeskort. Comair se uitvoerende hoof, Glenn Orsmond, sê hulle is baie jammer oor die ongerief wat die skorsing gaan veroorsaak. Comair spog met sowat 40 persent van Suid-Afrika se mark vir plaaslike vlugte.