Kry vir jou! Rusland reik lasbrief uit vir ICC-aanklaer
Russiese owerhede het ‘n lasbrief vir die arrestasie van die die Internasionale Strafhof-aanklaer Karim Khan uitgereik. Die stap kom na die hof in Den Haag in Maart ‘n arrestasiebevel vir President Vladimir Putin uitgereik het. Khan se foto pronk op die Russiese ministerie van binnelandse sake se databasis. Daar is geen oortreding gespesifiseer nie. Rusland het in Maart sy eie ondersoek na Khan gelas, kort na Putin se lasbrief uitgereik is vir oorlogsmisdade. Rusland se ondersoekkomitee sê dat Khan ondersoek is vir die “kriminele vervolging van ‘n persoon wat bekend is as onskuldig”.