Kremlin-kritikus kry 25 jaar tronkstraf
Die Verenigde Nasies se menseregte-hoof het ‘n beroep op die Russiese regering gedoen om onmiddellik die Kremlin-kritikus, Wladmir Kara-Murza vry te laat. Kara-Murza is vroeër vandag tot 25 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy onder meer aan hoogverraad skuldig bevind is. Hy kritiseer al vir jare die Russiese President Vladimir Putin en Rusland se inval in Oekraïne. Die VN se Menseregtehoof, Volker Turk sê niemand behoort van hulle vryheid ontneem te word omdat hulle hul menseregte uitgeoefen het nie. Die Britse regering het vroeër die Russiese ambassadeur ontbied om Kara-Murza se vonnis te veroordeel. Kara-Murza het Britse en Russiese burgerskap.