Krediet: Huishoudings maak 54,4% van totaal uit
Kredietverlening deur die privaatsektor het in Oktober vanjaar effe verlangsaam en met 3,5 persent op ‘n jaargrondslag gestyg vergeleke met 4.1 persent wat in September aangeteken is. Krediet opname vir die jaar staan op ‘n gemiddeld van 3,6 persent en is hoër as die gemiddeldes van 2020 en 2021. Kredietopname deur korporatiewe maatskappye, wat 39,1 persent van die totaal uitmaak, het met 3,1 persent gegroei terwyl huishoudelike skuld, wat 54,4 persent van die totaal beslaan, met 3,7 persent gegroei het. Kredietopname deur buitelanders wat 6,5 persent van die totaal uitmaak het in Oktober, op ‘n jaargrondslag, met 1 571,5 persent gegroei. Die enigste skuldinstrumente wat kredietgroei in Oktober ondersteun het, sluit in huishoudelike verbandlenings en beide huishoudelike en korporatiewe afbetalingskrediet. Huishoudings en maatskappye was vir die grootste deel van 2022 netto terugbetalers op oortrokke rekenings.