Koperdraad-diefstal knou Tsumeb, Dundee

Dundee Precious Metal in Tsumeb het die afgelope 14 maande onder verskeie koperdraaddiefstal voorvalle gely. Altesaam sewe sake is geopen waar verdagtes in hegtenis geneem is, en verskeie voorvalle is intern aangemeld waar geen verdagtes in hegtenis geneem is nie. NamPol se Oshikoto-streeksbevelvoerder, Kommissaris Theopoline Kalompo-Nashikaku, sê koperdraaddiefstal is ‘n ernstige probleem in die dorp en Cenored moet gereeld koperdraad vervang. Sy versoek die publiek om nie koperdraad by lukrake mense te koop nie. Jaco Haasbroek, bestuurder van Dundee se beskermingsdienste en noodreaksie, sê die diefstalle het al ‘n nood water-afskakeling veroorsaak weens waterverlies uit die dam. Die kragsentrale word ook geraak en lei tot krag-onderbrekings in die dorp, wat ook besighede benadeel. Dundee het reeds ‘n beraamde verlies aan produksie-inkomste van 22 miljoen Namibiese dollar gely.