Konstruksiesektor groei ietwat in eerste kwartaal

Konstruksie het in die eerste kwartaal van die jaar matige groei van 3,5 persent op ‘n jaargrondslag beleef, ná drie opeenvolgende kwartale van daling. Dit was aansienlik laer as die 26,8 persent jaarlikse toename in die eerste kwartaal verlede jaar. Die Nasionale Statistieke-agentskap het die minimale groei toegeskryf aan hoofsaaklik aktiwiteite in die groenwaterstofsektor. Die werklike waarde van staatsbesteding aan konstruksie het in die eerste kwartaal met 31,5 persent op ‘n jaargrondslag gedaal, in skrille kontras met die 15,9 persent jaarlikse groei in dieselfde tydperk verlede jaar. Die trae groei in die sektor was grootliks te wyte aan verminderde staatsbesteding, met ‘n aansienlike inkrimping in vervoer-infrastruktuur projekte.