Konstruksie in hoofstad ‘gedemp’

Die bouplangoedkeuringsdata van Stad Windhoek vir September was grootliks in lyn met die maandelikse syfers tot dusver vanjaar. Langtermynneigings dui steeds op gedempte beplande konstruksie-aktiwiteit in die hoofstad, volgens IJG Securities. Die aantal en waarde van bouplangoedkeurings wat gedurende die eerste drie kwartale aangeteken is, is ongeveer 25 persent laer as dié wat in dieselfde tydperk ‘n jaar gelede goedgekeur is. Die kommersiële en industriële sektor was die enigste waarin daar ‘n toename was, van 19.4 persent in getal terme in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, en ‘n 59 persent jaar-tot-jaar toename in geldwaarde.