Konstruksie-bedryf eis ook werkloosheidsyfers
Die Konstruksie Industrie-federasie eis in ‘n verklaring dat die werkloosheidsyfers onmiddellik deur die Namibiese Statistieke-agentskap vrygestel moet word. Die federasie se uitvoerende hoof Bärbel Kirchner sê daarsonder kan die sektor nie werk aan herstelplanne nie. Die sektor sukkel sedert 2016 eers met ‘n moratorium en toe daarna Covid-19. Volgens haar sal die syfers kritieke inligting verskaf oor vaardighede en waar opleiding en aanpassings nodig is. Die beroep kom na die Ekonomiese Beleidsnavorsing Vereniging ook sy eis daarvoor gestel het. Die agentskap sê daar is geen politieke motivering vir die vertraging nie en dat die syfers op 29 Januarie beskikbaar sal wees.