Konstabel aangekla van dronkbestuur, voertuigdiefstal en bestuur sonder ‘n rybewys

Konstabel Vetondouua Kanguatjivi van die Windhoek-polisiestasie, wat Sondag in Windhoek in hegtenis geneem is nadat hy met ‘n voertuig drie verskillende eiendomme in die Hochland Park-woonbuurt beskadig het, is op borgtog van 5 000 Namibiese dollar vrygelaat. Kanguatjivi, wat vanoggend in die Windhoek-landdroshof verskyn het, word op drie aanklagte aangekla, naamlik diefstal van ‘n motorvoertuig, bestuur op ‘n openbare pad onder die invloed van alkohol en bestuur van ‘n motorvoertuig sonder ‘n rybewys. Die voorval het Saterdag in die vroeë oggendure gebeur nadat hy glo teen die grensmure van minstens drie eiendomme gebots en erge skade aan die eiendomme aangerig het. Die saak word tot 5 September uitgestel vir verdere ondersoeke, asook om die forensiese deskundiges toe te laat om die laboratorium-uitslae met betrekking tot die vermoedelike hoë hoeveelheid alkohol in sy bloed, voor te lê.