Koninklike landgoed beroof! Twee indringers breek by Windsor Castle in en steel plaasvoertuie

Windsor-kasteel, een van die Britse koninklike wonings, is Sondagaand beroof toe twee gemaskerde indringers die terrein betree het. Prins William, prinses Kate, en hul drie kinders was in die nabygeleë Adelaide Cottage terwyl die voorval plaasgevind het. Die mans het glo ‘n vragmotor gebruik om deur ‘n hek te breek en het ’n heining van ses voet oorklim om toegang tot die perseel te kry.

Die indringers het twee plaasvoertuie gesteel – ‘n swart Isuzu-bakkie en ‘n rooi vierwielmotorfiets – wat in ’n skuur gestoor was. Hulle het gevlug na die Ou Windsor- en Datchet-omgewing. Volgens ‘n bron moes die mans die perseel vooraf dopgehou het, aangesien hulle presies geweet het waar die voertuie gestoor is en wanneer om ongesiens te ontsnap.

Die inbraak het net ‘n paar minute van William en Kate se woning af plaasgevind. Die hek waar die diefstal plaasgevind het, is naby die uitgang wat die gesin gereeld gebruik. Gelukkig was koning Charles en koningin Camilla nie by Windsor-kasteel teenwoordig tydens die voorval nie.

Die Thames Valley-polisie ondersoek tans die insident, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. ‘n Woordvoerder van die polisie het bevestig dat hulle Sondagaand omstreeks 23:45 van die inbraak ingelig is. Alarms op die terrein het nie betyds afgegaan nie, en die eerste teken van die inbraak was toe die indringers deur die veiligheidsversperring by die Shaw Farm Gate-uitgang gebreek het.

Die rooftog, wat ernstige veiligheidsvrae vir die koninklike familie oproep, volg ná gewapende veiligheidsbeamptes onlangs van Windsor-kasteel verwyder is. William en Kate het in 2022 van Kensington-paleis na Adelaide Cottage verhuis en bly steeds naby die betrokke kasteel.