Konflik op Wesoewer wek kommer

Vier Palestyne is dood nadat Israeliese magte Maandag ’n klopjag op die besette Wesoewer uitgevoer het. ’n Palestynse amptenaar het die sterftes bevestig. Volgens die Israeliese polisie het die voorval in die stad Jenin gebeur. Die Israeli’s was vermom as Palestyne en was op pad om ’n militant gevange te neem toe “’n groot groep” op hulle losgebrand het. Volgens amptenare is geen Israeli’s beseer of dood nie. Die Wesoewer word sedert 1967 deur Israel beset, maar Palestina wil dié gebied, sowel as die Gaza-strook, met Oos-Jerusalem as hoofstad, hê. Israeliese magte oorheers egter die gebied en voer soms klopjagte uit om vermeende militante aan te keer.