Kommunale boere gemaan om nou kudde te verminder, voor toestand verswak

Die woordvoerder van die landbouministerie Jona Musheko het op sy Twitter-blad ‘n beroep op boere in die Noordelike Kommunale Gebiede, sowel as dié in die Kunene- en Erongo-streke gedoen om dringend hulle vee-getalle te verminder. Hy sê die dreigende droogte en die redelike swak toestand van weiding maak die verkoop van diere noodsaaklik, veral terwyl hulle nog in ‘n goeie toestand is. Veral kommunale boere in die Noorde het ‘n tendens om meer waarde aan hul kudde te koppel en hou dikwels hulle diere wanneer hulle reeds getalle moes verminder het, wat verdere verliese veroorsaak. Agribank het die week gesê dat bemarking van diere skerp toegeneem het met 49 persent meer diere wat in Maart op-die-hoef uitgevoer is. Intussen sê die Vleisraad dat die toenemende verkope reeds pryse laat daal.