Kommer oor Afrika-handel in Chinese tradisionele medisyne

Die Omgewingsondersoek-agentskap wat in Londen gebaseer is, doen ‘n beroep op Afrika-regerings om te keer dat plaaslike vervaardigers en handelaars handel dryf met tradisionele Chinese medisyne wat bedreigde spesies bevat. Ceres Kam van die agentskap sê hulle verstaan dat tradisionele medisyne ‘n belangrike deel van baie kulture is en ‘n belangrike rol speel in gesondheidsorg in Afrika en elders. Kam sê alhoewel die meerderheid tradisionele Chinese medisyne plantgebaseerd is, gaan sommige farmaseutiese maatskappye voort om bestanddele van bedreigde diere te gebruik wat groter druk plaas op dié spesies se oorlewing.