Koeëls tref Amerikaanse vliegtuie oor Haïti
Twee stralers van Amerikaanse lugdienste is gister deur koeëls getref terwyl hulle oor die hoofstad van Haïti, Port-au-Prince, gevlieg het. Owerhede in Haïti het daarna alle vlugte na en van die hoofstad opgeskort weens toenemende bendegeweld. Die burgerlugvaartowerheid van Haïti het vlugpersoneel later in kennis gestel alle lugverkeersbedrywighede by die lughawe word opgeskort. Haïti gaan reeds bykans ʼn jaar lank gebuk onder wydverspreide bendebedrywighede en politieke chaos. Gekoördineerde bende-aanvalle het vroeër vanjaar gelei tot die sluiting van die lughawe en die belangrikste hawe in die hoofstad.