Klein Karoo Nasionale Kunstefees terug in sy volle glorie

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn is vanjaar weer terug in sy volle glorie, nadat dit vir twee jaar virtueel aangebied is, gevolg deur ‘n beperkte feesprogram verlede jaar. Dit word van 1 tot 9 April aangebied. Die feesprogram is sopas bekendgestel. Die 27ste jaarlikse KKNK bied vanjaar baie van die ou gunstelinge aan maar ook ‘n paar nuwe toevoegings. Van 1 tot 4 April word ‘n Jeug-kunstefees in samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement aangebied. Die KKNK se artistieke direkteur, Hugo Theart, sê hulle wil ‘n belangstelling in die kunste onder hoërskoolleerlinge kweek.