Kinders het die beste ‘poker faces’

Slimhede uit boeke kan jou ver bring, maar die vermoë om ‘n persoon te lees kan aan jou ‘n romantiese afspraak besorg, ‘n swendelaar laat afweer, of die World Poker Series in Las Vegas wen! Is jou goeie geluk dalk te danke aan jou vermoë om ander mense te lees?

Wetenskaplikes by Harvard dink die soort emosie-bespeuring betrokke daarin om mense te kan lees is so deurslaggewend in die alledaagse lewe dat hulle bereid is om huilende babas in ‘n net van elektrode toe te draai om te sien hoe die mens leer om gesigte te lees.

By Dr. Charles Nelson se laboratorium by die Boston Kinderhospitaal help babas hom om te bepaal wanneer mense gesigte begin herken, nie deur knoppies te druk of te wys nie, maar bloot deur na prente op ‘n skerm te kyk.

Foto: Verskaf

Kameras wat in die skerm ingebed is, volg die baba se oogbewegings binne ‘n millimeter van akkuraatheid terwyl hulle die gesigte ondersoek. Intussen teken ‘n rekenaar die kind se breinaktiwiteit aan.

Deur veranderinge in oogbewegings en breinaktiwiteit vir elke prent te vergelyk, kan Nelson bepaal wanneer ‘n kind ‘n verskil in ‘n gesig herken – soos in ‘n verbaasde gesig of ‘n bang gesig – en wanneer die kind daardie fynhede mis.

“Daar is individuele verskille ten opsigte van sensitiwiteit vir gesigte, en ons hipotese is dat hulle oorsprong vroeg in die lewe is,” sê Nelson, ‘n professor in pediatrie en neurowetenskap aan die Harvard Mediese Skool.

Trouens, Nelson sê kinders kan teen hul eerste verjaardag gesigte volgens spesie, geslag, ras en ouderdom begin onderskei. Daar is egter ‘n kompromis: hoe beter die mens word om sekere gesigte te herken, hoe meer boet hulle die vermoë in om ander gesigte te herken.