Khomas Nampol versigtig vir Orlando Pirates onder Jacobs

Die Debmarine Namibië Premierliga skop vanaand in die Onafhanklikheidstadion in Windhoek af met Orlando Pirates wat die tweede geplaaste Khomas Nampol om 7-uur die stryd aansê. Orlando Pirates, eens een van die mees gevreesde sokkerklubs, het 11 van hul 15 wedstryde in die liga se eerste ronde verloor. Teruggekeerde afrigter Woody Jacobs is egter vol vertroue dat hulle die pyp kan rook. Fortune Eichab, afrigter van Khomas Nampol, hou vol dat Orlando Pirates nie so maklik sal wees om te klop as wat baie mense dink nie. Hy sê hy verwag ‘n moeilike wedstryd weens die terugkeer van Jacobs, en hulle sal die wedstryd met omsigtigheid hanteer.