Khomas kort jaarliks 72 nuwe klaskamers en drie skole

Die Khomas-onderwysdirektoraat het ‘n vergadering gehou om ingrypings rondom die verbetering van nasionale uitslae en ander verwante aangeleenthede te bespreek. Statistieke toon dat die streek se leerdergetalle van 90 360 in 2019 tot 106 650 tot op hede gestyg het, wat ‘n jaarlikse toename van sowat 2 650 leerders verteenwoordig. Dit vereis dat minstens 72 nuwe klaskamers en drie volwaardige skole op ‘n jaarlikse basis gebou moet word. Laboratoriumtoerusting, die opknapping en opgradering van klaskamers, en die verkryging van stoele, lessenaars, skryfbehoeftes en handboeke het ook onder die loep gekom.