Kersies ouer as 250 jaar

Tientalle bottels kersies en bessies, tydloos bewaar in bottels in die kelder van George Washington se herehuis op die oewer van die Potomacrivier, is ontdek tydens argeologiese opgrawings wat aan ‘n restourasieprojek gekoppel is.

Jason Boroughs, Mount Vernon se hoofargeoloog, het gesê die ontdekking van soveel perfek gepreserveerde kos van meer as 250 jaar gelede is in wese ongekend.

Heel stukkies vrugte, herkenbaar as kersies, is in van die bottels gevind. Ander bottels se inhoud lyk soos appelliefies, maar toetse is aan die gang om dit te bevestig.

Mount Vernon werk saam met Amerika se departement van Landbou, wat DNS-toetse op die vrugte doen. Hulle ondersoek ook meer as 50 kersiepitte wat uit die bottels herwin is om te sien of enige van hulle geplant kan word.

Benjamin Gutierrez, ‘n USDA-plantgenetikus, sê die kanse om ‘n kersiepit te gebruik om ‘n boom te laat groei is raar aangesien sade die beste bewaar word wanneer hulle droog is, en die meeste van die monsters wat by Mount Vernon gevind is, was in ‘n stroop.

Tog het hy gesê die bottels is ‘n merkwaardige vonds. Benewens DNS-toetse, het hy gesê chemiese toetse kan dalk wys of spesifieke speserye gebruik is om die vrugte te preserveer.

Hierdie kersies is egter heel waarskynlik gebottel om bloot as kersies geëet te word.

Die kwaliteit van die bewaring weerspieël ‘n hoë kaliber van werk. Slawe het die plantasie se kombuis bestuur. Die kombuis was onderhou deur ‘n slaaf genaamd Doll, wat in 1758 saam met Martha Washington na Mount Vernon gekom het.

“Die slawe het na die bome omgesien, die vrugte gepluk, en in die kombuis verwerk.”

Die bottels is slegs gevind omdat Mount Vernon besig is met ‘n herlewingsprojek van $40 miljoen van die herehuis, wat hulle verwag om teen die land se 250ste verjaardag in 2026 voltooi te wees.

Hulle weet die bottels dateer van voor 1775 af, want dit is toe dat ‘n uitbreiding van die herehuis daartoe gelei het dat die area met ‘n baksteenvloer bedek is.

“Daar is baie inligting vervat in die bottels en ons is opgewonde om meer uit te vind,” het hy gesê.