Kenners meen BoN sal repokoers na 4,75% opstoot

Ekonome voorspel ‘n verhoging van 50 basispunte wanneer die monetêre beleidskomitee van die Bank van Namibië in Junie vergader. Die nuwe bank terugkoopkoers sal op 15 Junie aangekondig word. Gegewe dat Namibiese rentekoerse nou in lyn is met dié van die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal die plaaslike sentrale bank in die spore van die buurland volg. Die twee banke se repokoerse moet hand aan hand loop as gevolg van die koppeling van die Namibiese dollar en die Suid-Afrikaanse rand en indien die bank dit nie doen nie kan dit lei tot kapitaaluitvloei na Suid-Afrika. Op die oomblik is die repokoers 4,25 persent.