Katima Mulio eenstop-grenspos een stap nader

Namibië en Zambië het ‘n bilaterale ooreenkoms in Katima Mulilo onderteken om ‘n eenstop-grenspos by die Katima Mulilo-grensoorgang te vestig. Namibië is verteenwoordig deur die Zambezi-goewerneur, Lawrence Sampofu, en Zambië deur die handelsminister Chipoka Mulenga. Sampofu sê die ooreenkoms sal nie net gladder en doeltreffender oorgrenshandel fasiliteer nie, maar ook veiligheid en ekonomiese samewerking in die streek versterk. Mulenga sê die ondertekening sal die twee lande as leiers in intra-Afrika handel posisioneer. Die Katima Mulilo eenstop-grenspos sal Namibië se tweede wees, met konstruksie van die Trans-Kalahari eenstop-grenspos op die grens met Botswana in ‘n gevorderde stadium.