Katima-gemeenskapslede steel boumateriaal vir skoolkoshuis

Onderwysowerhede op Katima Mulilo is raadop met lede van die gemeenskap wat nie skole bystaan en ondersteun nie. Volgens plaaslike berigte is 11 mense agter tralies nadat 330 000 Namibiese dollar se boumateriaal by die Liselo Gekombineerde Skool op die dorp gesteel is. Die skool sou ‘n koshuis gebou het vir veral benadeelde leerders. Die Zambezi-streek se direkteur van onderwys Jost Kawana het sy skok uitgespreek en sê van die leerders plak om die skoolgeboue, alles in ‘n poging om skool toe te gaan. Volgens die polisie, sluit die verdagtes ‘n 73-jarige pensioenaris en ‘n 16-jarige seun in.  Die saak sal op 13 Julie weer voorkom in die hof op die dorp. Ses verdagtes het borg van 5 000 Namibiese dollar ontvang.