Kanse van La Nina verswak, sê Aussies 

Die waarskynlikheid van ‘n La Nina-verskynsel in die komende maande het afgeneem volgens Australië se weerburo. Die diens voeg by dat as die verskynsel wel sou voorkom, dit swak en van korte duur sou wees. Die ontwikkeling van La Nina en sy teenoorgestelde, El Nino, is van groot belang vir wêreldwye landbou, met La Nina wat tipies reënval in die suidelike halfrond verseker. Die buro het gesê sy interne klimaatmodel dui daarop dat La Nina nie sal ontwikkel nie en vier van die ses ander klimaatmodelle wat dit nou ondersoek, stem saam. ‘n Voorspeller van die Amerikaanse regering het verlede week gesê daar is ‘n 60 persent kans dat La Nina teen die einde van November opduik wat tot Januarie-Maart 2025 sal voortduur. ‘n Maand vroeër is daar ‘n 71 persent kans voorspel.