Kankervereniging waarsku oor slenters

Die Kankervereniging van Namibië het die publiek, korporatiewe entiteite en die mediese bedryf gewaarsku om versigtig te wees vir slenters wat finansiële bystand of borgskappe in sy naam versoek. Die vereniging sê in ‘n verklaring dat individue ‘kanker’ of die Kankervereniging van Namibië gebruik in boodskappe om geld van die publiek in te samel. Die boodskappe beweer ook dis ‘n saak van lewe en dood. Volgens Rolf Hansen, uitvoerende hoof van die vereniging is hulle deur ‘n lid van die publiek gekontak, sowel as ‘n plaaslike dokter wat die slenters bevestig het. Hansen sê ook dat in ‘n afsonderlike voorval in Desember 2022, is hulle genader vir bystand, maar met noukeurige hersiening en ondersoek is daar ontdek dat die mediese verslae vals was.