Kampeer groei in gewildheid onder toeriste

Namibiërs wend hulle toenemend tot kampeerplekke vir hul toerisme-ervarings. Die makelaarshuis Simonis Storm se nuutste verslag oor besettingsyfers wys dat kamerbesettings in gasvryheidsinstansies aanhou daal en verlede maand tot 23,1 persent gesak het van 24,9 persent in Januarie en 33 persent in Februarie 2023. Die aanloklikheid van meer bekostigbare opsies blyk die dryfveer agter die gewildhied van kampeerplekke te wees. Daar was ‘n noemenswaardige toename in kampeerders van Namibië en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Februarie, met ‘n totaal van 577 gaste wat aangeteken is vergeleke met net 22 in Januarie. Hierdie styging in besoekersgetalle het vertaal na ‘n totaal van 202 kamppleknagte vir die maand, wat ‘n beduidende toename in die gewildheid van kampering onder Namibiese en SAOG-gaste gedurende hierdie tydperk aandui. Boonop het internasionale gaste ook ‘n voorkeur vir kampeerplekke getoon, met 247 wat in Februarie gaan kamp het, vergeleke met net 49 in Januarie.