Kamanjab-dorpsraad begin eie waterprojek

Die Kamanjab-dorpsraad is besig om sy eie boorgate te boor om te verseker dat die gemeenskap en omliggende gebiede genoeg water het, en om nie van NamWater afhanklik te wees nie. Die landelike ontwikkeling-ministerie befonds die projek met 5 miljoen Namibiese dollar. Een boorgat is voltooi en volgens die raad se hoof uitvoerende beampte, Bianca Nguaiko, sal nog twee gate hierdie week geboor word en ‘n vierde een later. Sodra die boorwerk klaar is, sal die raad ‘n nuwe reservoir en behandelingsfasiliteit bou om gesuiwerde water teen ‘n verlaagde tarief aan huishoudings te voorsien. Die hele projek sal waarskynlik in Februarie voltooi wees.